Die Springbokke gaan Saterdag weer met Ruan Pienaar as losskakel teen die All Blacks in Durban speel en Morné Steyn gaan steeds as troefspeler gebruik word.
Pienaar het die naweek nie ’n gelukkige eerste helfte met sy stelskopwerk in die Bokke se eerste Drienasies-rugbytoets hier op Vodacompark beleef nie, terwyl Steyn veel beter pale toe gemik het nadat hy Pienaar aan die begin van die tweede helfte vervang het.
Pienaar het ’n enkel beseer, maar dit behoort hom nie uit die Durban-toets te hou nie.
Dié verloopte skrumskakel se swak skopwerk pale toe moet die Bok-afrigter, Peter de Villiers, egter bekommer.
De Villiers volhard met Pienaar as sy eerste keuse op losskakel, maar sy planmaker se skewe visier maak dit moeilik vir die afrigter om dié besluit te regverdig.
Pienaar het maar 6 van sy laaste 14 skoppe deur die pale gejaag, terwyl Steyn se treftempo meer as 90% is.
Pienaar se swak stelskopwerk pale toe was juis een van die redes waarom die Springbokke nie die All Blacks kon “bêre” toe Suid-Afrika die eerste halfuur se spel totaal oorheers het nie.
In daardie stadium het die Springbokke se taktiese spel die besoekers totaal oorhoops gehad, maar hulle het 14 punte via Pienaar se skopvoet verbrou.
De Villiers het vir sy skopper geskerm.
“Hy het die bal goed getref en dit was net ’n geval van sentimeters. Dit gebeur met skoppers,” het hy gesê.
Dit is noodsaaklik om ’n betroubare stelskopper op dié vlak te hê. Dit word vergestalt deur die All Blacks se Stephen Donald, wat met vier strafdoele sy span in die wedstryd gehou het.
Die Bok-kamp glo Steyn se grootste waarde tans is as troefspeler en dat Pienaar soveel moontlik kanse gegee moet word om hom in die nr. 10-trui te vestig. Steyn word gesien as ’n “versekeringspolis” waarop terug?geval kan word as dinge skeefloop.
Die Absa-stadion is ’n baie moeilike veld vir stelskoppers, hoewel Pienaar in die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus met vyf uit ses pogings daar geslaag het.
Pienaar en die Bokke se skopafrigter, Percy Montgomery, sal vandeesweek waarskynlik heelwat tyd saam deurbring.
Daar behoort nie veranderinge aan die span te wees vir die toets nie, hoewel Adrian Jacobs, wat weens ’n seer lies nie hier kon speel nie, weer deel van De Villiers se planne kan wees.
Jaque Fourie het egter niks verkeerds gedoen nie en het met sy drie laat in die wedstryd opnuut sy waarde as aanvaller getoon.
Die Springbokke het takties uitstekend gespeel.
Hul skoppe op die All Blacks se agterste driehoek het die besoekers in hul gebied vasgepen, terwyl puik spel in die vastelos die Nieu-Seelanders laat klippe kou het.
Die All Blacks sal ’n veel harder neut wees om te kraak as hulle in die Absa-stadion uitdraf. Hulle het reeds gister Durban toe gevlieg en sal goed uitgerus wees.
Source: beeld.com
|